Onderhoud met Leon Schuster – Uittreksel uit Beeld deur Marida Fitzpatrick

Die Reënboognasie, wat Leon Schuster so goed ken, wat hy op ’n manier met sy liedjies en flieks en grappe help skep het, “skyn nie meer so lekker nie,” sê hy. “Daai reënboog kruip op die oomblik agter Tafelberg weg.” Agter slaggate en Malema en blouligbrigades.

Dis hoekom hy weet: die nasie het weer opcheer nodig, hulle het Schuster nodig; hulle’t Schucks nodig. En einde Mei, kort duskant WB 2010, kry hulle dit in Leon Schuster se nuutste fliek: Schucks Tshabalala’s Survival Guide to South Africa 2010. In dié fliek gaan Leon terug na sy wortels – die versteekte kamera.  Al die “gags”, soos hy dit noem, word saamgebind deur ’n karakter genaamd Shucks Tshabalala, natuurlik gespeel deur Schuster.

“Ek is ’n swart man en ek het my gewone sidekick, Alfred Ntombela. Ons het ons eie toerismekantoor en ons neem ’n klomp buitelanders op ’n trip deur Kaapstad. Dan lig ons hulle in oor die do’s en don’ts van Suid-Afrika.”

Elke “lessie” word geïllustreer deur ’n versteekte kamera-voorval.  Hy wil nie nou al windgat wees en sê die fliek gaan ’n sukses wees nie, maar te oordeel na die skaterlag van die toetsgehore kan hy hoor dit werk – dit beur mense op. Hulle lag hulle slap, veral as die mense Leon so disnis klap.

“My blerrie lewe is in gevaar. Maar hoe meer snotklappe ek kry, hoe happier is my fans. Ek moet my klappe inwerk. Ek raak banger, want ek raak ouer, so ek moes baie dapper wees in hierdie movie.  “Jy weet, ek het ’n ou tannie op ’n gholfbaan rondgejaag. Jis, sy’t my amper sewe keer met daai gholfstok raakgeslaan.”

By Leon se huis aan die Wes-Rand langs ’n dam vol watervoëls kan ’n mens begin glo Julius Malema en slaggate en blouligbendes is net kwaadwillige gerugte.  Hier by Leon, buite op die stoep, is dit net mooi, lekker en rustig. Mens hoor nie eens ’n sirene nie – net die tjiertjiertjier van die voëls op die dam en die val van sy klein swembad-waterval.

Die lewe het wye paaie met hom geloop, sê Leon. Hy lag. “Ja, baie wyd.” Nou het daardie paaie hom teruggeneem na dít wat hom al 30 jaar die bekendste grapjas in Suid-Afrika maak: poetse bak.  Hy wou nie, glad nie, “omdat ek banger is, omdat ek ouer is, omdat ek bang is ek word geskiet – in hierdie land is dit baie, baie moontlik.” Maar hy het geweet dis wat sy aanhangers wil hê.

En toe, op die ouderdom van 58, trek hy weer die monderings aan en word die boetebessie en die vet Hollander en die “cheeky ” Zimbabwiër wat die slegste en snaaksste uit ander bring. Dié keer was sy vermommings meer gesofistikeerd as ooit, want elke Suid-Afrikaner ken al vir Leon Schuster. Hy kan nie meer wegkom met ’n snor of ’n pruik of ’n paar valstande nie.

Hierdie keer was dit fat suits en prostesis en die grootste bra wat hy in sy lewe gesien het, “wat hulle gevul het met sykouse vol voëlsaad om dit bietjie natuurlike beweging te gee as ek loop”.  Onder al hierdie lae en lae kamoeflering het hy hom doodgesweet, maar dit was als die moeite werd. Want die mense het die een na die ander daarvoor geval. Hárd.  Daai astrante Zimbabwiese baljoggie het ’n gholfspeler so woedend gemaak dat hy hom amper aangerand het.

“Sy vuis was al teruggetrek, reg om my te dônner. Gelukkig gryp Toks (van der Linde, rugbyspeler, wat deel was van die poets) hom toe van agter af en sê: ‘Dis Leon Schuster’.  “Die verligting was vir hom net so groot soos vir my. Daai ou het sulke lang Wes-Indiese arms. As hy my geklap het, het ek drie bolmakiesies gemaak by daai gholfbaan af.”

Nie dat dit vir hom vreemd sou wees nie. In sy 30 jaar het hy al meer klappe gekry as wat hy kan tel.  Eendag, ses jaar gelede, het daai einste Alfred Ntombela – “hel, daai outjie, ek en hy is ongelooflike great pelle” – by Leon kom sit en met trane in sy oë vir hom gesê: “Schucks, you must stop this candid camera. They’re going to kill you.”

Net die volgende dag het Leon en Alfred as deel van ’n poets by ’n vulstasie ’n man se motorruit met “vrot bruin water” gaan was. “En voor ek kan sê ‘Leon Schuster’, toe slaat hy my met ’n vuis – kadwa – dat ek 40 sekondes lights out was. Laaste wat ek onthou, is Willie Esterhuizen (destydse regisseur) wat skree: ‘Dit is moerse nice !’”

In die nuutste Schucks was daar baie sulke noue ontkomings, selfs toe hy in die rol van ’n vrou was. “Ek speel boetebessie, maar dis ’n lekker groot antie en sy trek mense af by ’n plek met ’n teken wat sê jy mag nie daar stop nie. Sodra ek hulle gestop het, dan sê ek: ‘Sir, you’re not allowed to stop here, can’t you read the sign?’”

Een ou het uitgespring. “Ek het gesien hy gaan my neuk, toe skree ek: ‘You can’t hit me, I’m a woman!’ “En die man kyk my so ernstig en verward aan en sê: ‘You don’t look like a woman, you look like a man.’  Ek wou nog aangaan, ek wou dit nog verder vat, maar toe crack ek net op en lag. Toe lê ek en hierdie ou seker drie minute en lag ons gaie af.”

Veral in hierdie land is dit “die wonderlikste beloning” om mense te laat lag, sê Leon.  Maar dis nie altyd maklik om “die mense se clown” te wees nie.  “Jy kan nooit eintlik normaal wees nie. As ek gaan petrol ingooi, moet ek eers die Mama Jack song sing.”

Waar hy wel normaal kan wees, heeltemal homself kan wees sonder dat hy snaaks hoef te wees, is by sy familie. Sy oudste dogter, Lelani (29), is nou swanger, “so ek gaan ’n ding word wat ek nooit wou geword het nie en dis ’n oupa,” skerts hy.  Nee, eintlik sien hy vreeslik uit. Half trots: “Ons het klaar vasgestel dis ’n laaitie.”

Self het hy “glad en geheel nie ’n girlfriend nie”, want ’n geskeide man trap “drie keer, vier keer, vyf keer versigtiger” ná sy egskeiding.  “Dis maar ’n feit soos ’n koei, want die pyn is maar nie lekker met ’n egskeiding nie. In die meantime is daar mense om my wat my gelukkig hou. Dis vir my fyn. My laaitie kan nou al vir my braai en hy kan Durban toe bestuur. Dis vir my groot vreugde.”

Sy afdae kry hy, wanneer daar ’n “loodswarigheid” in sy hart kom lê, “dat ek voel hoekom is ons ooit geskei met vier kinders”. Ja, mymer hy, en sy vingers trommel op die houtreling van sy stoel: “Enige clown het sy hartseer en jy mag dit vir niemand wys nie.” Hy kyk weg, sodat sy hartseer nie wys nie. “Niemand hou van ’n sad clown nie.”

’n Ruk lank bly hy stil en dan praat hy dit weg, sy blou oë weer lig en vol lag: Eintlik is hy nie so gekompliseerd soos almal dink nie, sê hy.  “Omdat ek van die Vrystaat af kom en geleer is om met my voete so plat op die grond te staan dat ek sukkel om my broek uit te trek, het ek nie wrokke nie.

“Ek probeer ook nie vir mense enige kulturele wyshede gee nie.” ’n Halwe smiletjie. “Ek probeer maar net ’n clown wees, dis al. Maar dis die moeilikste.”

Krediet: Marida Fitzpatrick, Beeld, 26 Maart 2010

RELATED LEON SCHUSTER PRODUCTS

Die Vrypostige Mikrofoon Volume 1The first volume of Leon Schuster’s Afrikaans radio series, Die Vrypostige Mikrofoon with Fanus Rautenbach during his time at the SABC, where he would disguise his voice and take the...





Is Waar, die Res is WolhaarLeon Schuster’s only Afrikaans movie. Leon decides to pull a prank on Aunt Lissie from Nommer Asseblief which end with humorous, dire consequences! Leon Schuster se enigste Afrikaanse rolprent. Leon...





Waar en Wolhaar9 CD tracks of Leon Schuster pranks, most by telephone.          TRACKS INCLUDE: 1.  Die Hoender In Die Vliegtuig 2.  Gerhard Viviers EN Die Haelgeweerlisensie 3.  Jou Honde Lawaai 4.  Kallie Knoetze...



Comments

One Response to “Onderhoud met Leon Schuster – Uittreksel uit Beeld deur Marida Fitzpatrick”
  1. Adelaide says:

    I really appreciate free, succinct, rleablie data like this.

Speak Your Mind

Tell us what you're thinking...
and oh, if you want a pic to show with your comment, go get a gravatar!